Talmbeweging Sit Gesondheid En Genot Terug In Kos

Siek en sat van die gejaagdheid van die stadslewe? Gesinslede sien mekaar soms net oor naweke. Insidente van spanningsverwante siektes styg jaarliks. Die koop, voorbereiding en gebruik van voedsel is net nóg een van die gejaagde aksies wat daagliks moet plaasvind. Geriefsvoedsel is dikwels die enigste en vinnigste antwoord. Selfs op plase het vierwielmotorfietse en bakkies baiemaal die plek van die ryperd ingeneem. Monokultuurverbouing bring geld in, maar jou risiko word groter.

Toe Macdonalds ‘n winkel in die hartjie van Rome in 1986 oopmaak, het Carlo Patrini, ‘n sjef, kos- en wynfynproewer met sy lydelike verset begin en die idee rondom Talmkos is gebore. Sederdien het die idee wêreldwyd uitgebrei van Talmkos na die Talmbeweging en selfs Talmstede en Talmrestaurante. Talmkostakke (convivia - Italiaans vir ‘n fees, onthaal, byeenkoms) is wêreldwyd gestig.

In 1661 berig Jan van Riebeeck in sy joernaal dat sy plaas die volgende gevestigde akkerboubedrywighede het: lemoen-, suurlemoen-, pampelmoes-, piesang-, olyf-, pruim-, neut-, kweper-, appel-, peer- en kersiebome en wingerdstokke. Bykans alle burgers en kompanjieamptenare het huistuine gehad. Suksesvolle aanplantings van patats, wortels, rape, artisjokke en verskeie grane word pertinent genoem.

Aan die begin was daar diversiteit

Die vroeë landbou aan die Kaap was dus gediversifiseer. Geleidelik het die uitvoermark van veral wyn en koring egter in klinkende munt baie boere oortuig om hulle op een produk toe te lê – iets wat vandag steeds algemeen is. Die plaaslike Khoi was goeie veewagters, maar het nie veel belanggestel in akkerbou nie en daarom was arbeiders moeilik bekombaar. Ekstensiewe veeboerdery was makliker, veral in die binneland, terwyl die plase in die Boland hulle op graan- en wynboerdery toegespits het.

Die Talmkosbeweging beywer hom vir:

  •     Voedselbiodiversiteit
  •     Beskerming van die omgewing en die grond
  •     Volhoubare landbou
  •     Beskerming van kleinboere en hulle gemeenskappe
  •     Bevordering van kookkunstradisies

Moderne landbou het ons gewoond gemaak aan enkele landbouprodukte, maar daar word beweer dat 300 000 van die wêreld se eetbare groentesoorte in die laaste 100 jaar uitgesterf het, terwyl ‘n derde van die wêreld se plaaslike bees-, skaap- en varkrasse reeds uitgesterf het of op die punt van uitsterwing is. Tradisionele voedsel is baiekeer nie beskikbaar in die groot supermarkte nie. ‘n Voorbeeld hiervan is die Heerboontjies van die Weskus se Sandveld. Slegs enkele boere doen nog die moeite om hierdie lekkerny te verbou en baie mense wat grootgeword het in die Wes-Kaap, ken dit glad nie

Passie, tyd en vars produkte

Landboupraktyke soos die verbouing van tradisionele voedsel, wisselbou, minimum bewerking, vermindering in die gebruik van chemikalieë en die terughou van saad is enkele van die praktyke wat deur Talmkos ondersteun word. Talmkos word verbou vir smaak, kwaliteit en voedingswaarde, nie noodwendig vir kwantiteit nie. Aangesien Talmkos plaaslik geproduseer en binne die seisoen bemark word, word die omgewing bewaar omdat langafstandvervoer en opberging in koelkamers nie plaasvind nie. Talmkosvoorbereiding kan slegs met passie, tyd en vars produkte plaasvind.

Baie kleinboere het nie die infrastruktuur of kapitaal om groot hoeveelhede van watookal te produseer nie. Talmkos gee hierdie mense die kans om ‘n lewe te maak deur in hierdie nisbehoefte te voorsien, terwyl voedselsekuriteit versterk word.

Telmkos Veg

Tradisionele maniere van kosmaak word bevorder en by ‘n Talmkosmark sal jy tuisgemaakte gemmerbier, klapperys, konfyt, ingelegde vrugte, blatjangs en tuisgebakte brood kan koop. Die hamburgers, lekkers en gaskoeldrank sal jy maar by die supermark moet gaan koop.

Dit gaan oor biodiversiteit en volhoubaarheid

En boerdery? Talmkos gaan oor biodiversiteit en volhoubaarheid van onder andere landbou. Die verskillende convivia skep geleenthede waar boere volhoubaar produseer, hulle produkte aan die verbruikers kan bied binne die natuurlike seisoen. Die middelman word uitgesny. Die ideaal is “van die veld na die vurk”.

Koolstofvoetspore word beperk omdat produkte nie oor lang afstande vervoer word nie. Produkte het beter smaak en voedingswaarde omdat dit nie weke in koelkamers geberg word nie. Daar is dus ‘n gulde geleentheid vir kleinboere om betrokke te raak, asook kommersiële boere wat wil diversifiseer. Die besluit om Talmkos te produseer is beslis nie ‘n reddingsgordel vir ‘n sukkelende kommersiële boer nie, maar dalk ‘n halm wat die boerderyrisiko kan versprei. Alhoewel ‘n nismark, word die vraag na gesonde, smaaklike en plaaslik geproduseerde voedsel daagliks groter.

My ma het die konsep van Talmkos goed verstaan, alhoewel die begrip onbekend was. Die lekkerste van ons jaarlikse vakansiesreis was ma se padkos. Koue hoender – van die hoender wat twee oggende vantevore jou nog wakker gekraai het, hardgekookte plaaseiers, maalvleiskerrievetkoeke (die koeke en die maalvleis tuisgemaak), gevriesde plaasmelk wat iewers in die Karoo gesmelt het en ‘n heerlike verfrissende drankie was, tamaties en vrugte uit die tuin, tuisgemaakte brood. En wee jou as jy dit sou waag om met hunkering na die supermark se vrugte in hulle kliniesverpakte plastiek te loer. Sy het jou gou laat verstaan dat sy nie geld uitgee vir vrugte as die boord vol hang nie. En jou lus vir druiwe in die middel van die winter is met ‘n kortaf - “Jy’s laf, dis nou lemoentyd!” – afgemaak. Sy glo steeds dat geld uitgee op iets wat sy by die huis kan maak ‘n doodsonde is. Die lekkerste tamatie/grenadella/waatlemoen se pitte word gebêre om volgende jaar geplant te word.  

Talmkos kan die genot van kos weer teruggesit wat ons gejaagde kitsetes voor die televisie ons ontneem het. Goeie gesonde kos wat op sy tyd smaaklik voorberei is, is iets wat werklik met vriende en familie gedeel behoort te word. Lekker eet is immers deel van ons tradisie en kultuur.
Besoek gerus die webwerf van ons plaaslike talkmosbeweging: www.slowfoodcapetown.co.za

Image source

Slow Food New Logo

blog comments powered by Disqus
blog comments powered by Disqus