Boek Resensie - Rus vir die hele aarde deur Ernst Conradie

Die Bybel is nie ‘n wetenskaphandboek nie. Daar is baie aspekte van ons daaglikse moderne lewe wat glad nie deur die Bybel aangespreek word nie. ‘n Goeie voorbeeld is die ekologiese krisis waarmee ons vandag gekonfronteer word. Reg? Verkeerd! In Ernst Conradie se 'Rus vir die hele aarde' wemel dit van Bybelverse met ‘n ekologiese inslag – van Genesis reg deur tot in Openbaring.

Die boek se teks is in verskillende lettertipes, wat die leesgenot vergemaklik deurdat dit die hoogtepunte uitlig. Die illustrasies deur Piet Grobler is só treffend dat dit jou dikwels bybly, al vergeet jy wat geskryf is. Soos die salige uitdrukking van die dame wat haar welverdiende “rusdag” vier deur agteroor te lê – en dan die uitdrukking op die werker se gesig wat boekdele spreek oor verpligte werk op ‘n 'rusdag'. Die hoofstuk? 'Rus vir ons werksmense', natuurlik!

Ernst Conradie

Die skrywer wys daarop dat die Sabbatsrus in Genesis beslis nie oor rus vir God gegaan het nie, maar wel vir sy skepping – en dan natuurlik nie net vir die mense nie. ‘n Redelike deel word gewy aan die wette rondom die Sabbatsjaar, soos in Levitikus beskryf – een van daardie boeke in die ou testament wat dikwels deur selfs getroue Bybellesers oorgesien word. Wat kan die wette wat hoofsaaklik in die Israeliese uittog uit Egipte van pas was, dan immers vir my, die moderne mens, beteken?

Maar dit word duidelik dat die siklus van 6 jaar verbouing en een jaar braak lê ekologiese sin maak. In die Jubeljaar, naamlik na 7 siklusse van 7 jaar, moes alle skuld kwytgeskeld word. Pryse van eiendom het dan ook gedaal, hoe nader dit aan die Jubeljaar gekom het. So kan ek nie help om saam met die skrywer te wonder nie oor wat die uiteinde van die stelsel sou gewees het indien dit toegepas sou word? Landbougrond sou nie uitgeput wees nie en immer-stygende eiendomspryse sou ook meer stabiel gewees het. Ongelukkig het selfs ou Israel nie hiervoor kans gesien nie, want, natuurlik maak dit nie korttermyn ekonomiese sin nie! Maar dan bly die woorde uit Jesaja 32 jou by: God seën die wat hierdie wette nakom…

Skywer nie bang om aanhalings uit werke van nie-Christene/nie-teoloë te maak

Die skrywer is nie bang om aanhalings uit werke van nie-Christene/nie-teoloë te maak nie en wys daarop dat ons as mense by mekaar moet en kan leer. So bly die aanhaling uit ‘n liedjie van Pieter van der Lugt my by: “Sit maar die vullis uit; die lorries neem dit weg. Sproei kieme dood suiwer die lug. Kap uit die bome wat jou uitsig so bederf. Jy is mos baas op hierdie erf. ”En ek besef – dis die fout van die deursnee moderne mens van vandag. As ons nie die probleme in ons persoonlike ruimte sien nie,vergeet ons gerieflikheidshalwe daarvan.

Elke hoofstuk word ook afgesluit met pratkiese wenke aangaande omgewingskwessies en hoe individue asook groepe betrokke kan raak.

Werklik ‘n Bybelstudie wat anders is as die gewone.

Deur Anelia Marais

Foto bron

blog comments powered by Disqus
blog comments powered by Disqus