Die 21ste eeu se tweede dekade begin. 25 382 wêreldreisigers val Dodgy City binne. Verblyf van veertien dae. Wes-Gondwanaland Klimaatsveranderingskonferensie (KVK).
‘KVK aan ontwikkelende land toegeken,’ het die Global Thymes twee jaar vroeër aangekondig.
Die aanloopbaan van die beroemde DC Internasionale Lughawe pyl reguit op die Fantastiese Oseaan af. Vliegtuie styg op en land oor die see. Tussen die oseaan en aanloopbaan kronkel ‘n paar voorstedelike strate. Strokie dwanabos en witgebleikte strand voltooi die buffer.
‘Ons strande is nie meer so breed soos in my jong dae nie,’ bewe Vernang Kugelwana se 82-jarige stem in gesprek met ‘n eko-joernalis.
Strewe na balans tussen aanpassing en bekamping
Die KVK beoog om die verstaan en bestuur van klimaatsverandering te verbeter. Daar sal gestreef word na balans tussen aanpassing- en bekampingstrategieë. Samewerking van soveel as moontlik lande is hoë prioriteit, met organiseerders en belangegroepe wat ‘n ‘Splinternuwe Bedeling Vir Ons Aarde’ wil hê.
Twee afgevaardigdes ontmoet rondom skemerkelkies aan die einde van Dag 3.
‘Hi, ek’s Vanla, hoe gaan dit?’ Raamlose bril word reggeskuif, linkerduim ingehaak by bosbroeksak.
‘Lekker, dankie, ek is Somar. En? Hoe het jy die eerste drie dae ervaar?’
Draai na mekaar toe, Piña Colada en Martini bots amper. Mossels. Roomkaas. Beskuitjies.
77 000 ton CO2
‘Interessant gewees. Kos, verblyf, organisasie is fantasties tot dusver. My Piña Colada is hemels na hierdie lang dag! Die konferensie se koolstof-impak pla my. Ek hoor ons gaan amper 77 000 ton CO2 vrystel, en 80% daarvan is afkomstig van lugvervoer alleen. Dit verteenwoordig omtrent 0.3% van Dodgy City se jaarlikse koolstof-impak. Met ‘n bevolking van 3 miljoen.’ Sagte stem. Bruin oë verskuif na die horison.
‘Als is uitgesorteer: die regering sal die netto koolstof-impak moniteer en evalueer. Die nuutgestigde Stadsraad-Dodgywana Bewaringstrust het ‘n vrywillige neutraliseringsmeganisme geskep. Die Dodgy Credit. Sakekamers gaan ook bydra tot die inisiatief. Die ekonomiese inspuiting van die konferensie word geraam op tussen $80 miljoen en $100 miljoen.’ Somar se postuur word regop, oë ontmoet Vanla se gesig.
‘O, dit klink nogal ge-organise, hoor.’ Vanla se blik verskuif na die vragskepe wat wag om Dodgy Hawe binne te gaan.
‘Gaan jy Dodgy Credits koop, Vanla?’
‘Nee, ek dink nie so nie, my land is die veertiende Groenste.’
‘Werklik? Op watter indeks? En hoe het jy hiernatoe gereis? Per fiets?’ Somar glimlag terwyl hy effens frons.
‘Verskoon my, ek het ‘n afspraak om na te kom,’ sê Vanla, staan op en loop weg.
Op Dag 4 is Haöx Hammerskjðld, ‘n eks-akteur van Schmalzweld, beskryf as ‘n ontwikkelde land, ‘n sleutelspreker en werksessie-fasiliteerder. Sy vra $1 800 per persoon vir haar vyf-uurlange werksessie. Dit sluit in middagete, verversings en ‘n paar DVDs van haar doen en late. Ook ‘n rooi en groen handelsmerkrugsak met die konferensie se amptelike logo – ‘n buitelyn van die bedreigde Dodgy Makriel. Klere, pette, skryfbehoeftes en rekenaartoebehore. Die werksessie was oorspronklik bedoel om ‘n ekslusiewe, intieme geleentheid vir 5 000 mense te wees. Aanvraag het organiseerders gedwing om die ekstra 3 704 aansoekers te akkommodeer.
Gedurende die konferensie het die internasionale konferensiesentrum 62 500 drinkgoed en 59 130 maaltye aan konferensiegangers verkoop. 9 200 kilogram hoender, 2 700 kilogram beesvleis, 1 250 kilogram stokvis en 1 920 kilogram lamsvleis. Bio-afbreekbare verpakking is gebruik, insluitend bio-afbreekbare eeterei, -tandestokkies en -servette. 2 760 amptelike vergaderings is gehou gedurende die konferensie. Herwinbare items gelewer deur die konferensie het 34 360 kilogram geweeg, wat koolstofvrystelling van 42 792 kilogram verhoed het, sou hierdie items na stortingsterreine toe geneem word. 590 000 koubare pepermente. 73 200 handelsmerkpenne. 334 000 liter gebottelde water.
Dag 15. 6:30 vm.
Laaste vliegtuig sweef oor donkerblou oseaan en streel die moeë maan. Seemeeue kras vaarwel vanaf onsigbare takke in die helder oggendlug.
Sam se kar kruip opdraande op die kronkelpad tussen die aanloopbaan en die strand. Die familie se voertuig, ‘n dertienjaar-oue sedan met ‘n vol diensrekord, het al 289 567 kilometer op die klok. Sam sorg vir drie kinders, ‘n gade en twee grootouers. Die werkgewer wat die gesin voed gaan toemaak oor nege maande. As gevolg van beloftes gemaak deur Wes-Gondwanaland KVK afgevaardigdes.
Sam se kind sit direk agter die bestuurdersitplek en maak ‘n venster effens oop. Leë plastiekbottel land op die grond langs die kar, net soos hulle verby Mpho ry. Bottel kloenk-kloenk en rol dan ‘n entjie. Mpho, wat ‘geskenk’ beteken, trek ‘n trollie met sifdraadkante. Hierdie trollie beteken kos vir nege mense. Kollekteer plastiek, glas en blikkies vir herwinning. Word gewiel van voorstad na voorstad. Probeer om voor die munisipale vullisverwyderingstrokke by die juwele uit te kom.
Kniel, tel bottel op. Gooi dit in die herwinningswaentjie, staar na die laaste vliegtuig se dik duifstert van gasse wat groei agter enjins.
Ek wonder hoe voel dit om te vlieg, wonder Mpho. Kop draai regs, soek die pad na die volgende skat.

toddwarrenonline.com
Nuusopskrifte verskyn wêreldwyd:
‘Wes-Gondwana Konferensie misluk: status quo vir Aarde’
‘Gevaarlike besluite: W-Gondwana ons laaste kans?’
‘Geen bio-kompostering – Dodgy KVK groengrap’
‘Hoekom Dodgy City bedeling anders is’
‘Verraad van lewe deur W-G Konferensie: Klimaatskatastrofe onafwendbaar’
‘Dodgy Credit lippediens – Konferensie wurg omgewing’
‘Pollutici: Besoedelaars en politici smelt saam by Wes-Gondwana konferensie’
‘Blaamspel lei tot selfmoordpakt – W-Gondwana stel teleur’
‘Konferensie herwinbares gestort – skokkend vuil’
‘Huidige klimaatsveranderingsplanne bring steeds 5˚C teen 2100: Landbou – Die Einde’
Deur Werner Schmidt, 12 Maart, 2014
Werner is ‘n vriend, gade, pa, skrywer, storieverteller, leierskapskonsultant, sanger-liedjieskrywer, universele liefhebber en so aan.
Soek hom gerus op by:
- twitter.com/wernercreates
- facebook.com/wernercreates
- wernercreates@gmail.com
- wernercreates.com
- linkedin.com/wernercreates
Leave a Reply or Follow