‘n Kort, rooikop meisie in ‘n paar jeans wag vir my voor die ingang van die Natuurwetenskapgebou in Victoriastraat in Stellenbosch. Haar haas is groot. In haar hand het sy ‘n houertjiewat dringend by die Departement van Genetika moet uitkom.
‘Hulle moet ‘n DNS-analise hierop doen,’ sê sy opgewonde. ‘Dis moontlik ‘n nuwe spesie.’
Jeanne de Waal is propvol energie. Oppad terug na haar werksplek in die Department Bewaringsekologie- en Entomologie by die Universiteit Stellenbosch, gesels sy wyd en syd. Sy is op 27-jarige ouderdom besig met haar tweede jaar van haar PhD in Entomologie. Gewapen en gereed, begin sy met die hulp van ‘n Powerpoint-aanbieding ‘n passievolle omskrywing van haar projek te gee.
‘Okayek is ‘n landbou girl, maar nie die tipe wat jy op Boer soek ‘n vrou of in die Landbou Weekbladsal sien nie. Jy moet verstaan, die landbou van vandag is ‘n hele ander ballgame as 100 jaar gelede. Produsente boer nie meer met die oog om net self-onderhoudend te wees en hulle vrugte op die plaaslike mark te verkoop nie. Vandag se boere boer om geld te maak, en kan ongelukkig dubbeld soveel geld in die buiteland verdien as op die plaaslike mark,’ sê Jeanne. ‘Die name of the gamehet dus geword: uitvoer. Oorsese markte (veral Europese markte) is egter bitterstreng wat vrugkwaliteit betref. Suid-Afrikaners het ‘n hele handboek om te bestudeer voor uitvoere goedgekeur word. Dis waar mense soos ek inkom,’ sê sy met ‘n glimlag.
Oorsee is gifstowwe taboe
Volgens Jeanne wil oorsese markte graag residu-vrye produkte op hulle rakke hê, wat beteken insekdoders of gifstowwe is taboe.
‘Waar ons in die verlede vrugtevlieë lag-lag met die gebruik van gifstowwe sou kon uitroei, dwing huidige uitvoerregulasies ons om ander metodes van beheer te implementeer.’
Ons het gevolglik begin kyk na ‘goeie’ organismes om ‘slegte’ organismes uit te roei. Ons veg letterlik met die natuur teen die natuur, amper soosbiological warfare,’ grap sy.
Die Suid-Afrikaanse varsvrugte-industrie se grootste verliese word aan insekte-skade toegeskryf. Gevolglik word baie geld jaarliks deur die Suid Afrikaanse Appel en Peer Assosiasie (SAAPA) bestee aan die ontwikkeling van tegnieke om peste en plae in plaaslike boorde te beheer. Jeanne se huidige PhD-projek fokus op die beheer van een van die sleutel-plae van meeste vrugteprodusente, en word ten volle deur die SAAPA befonds.
‘Hoe is ditvir ‘n passion-killer? Ek roei motte uit vir ‘n lewe. Meer spesifiek, enige appel- of peer boer se grootste nagmerrie, die kodlingmot. Hierdie motte kan tot 80% van ‘n boer se boord vernietig as dit nie beheer word nie. Hulle larwes voed op die kerne van appels en skei dan fras (feses) af, wat die appels skadelik of onsmaaklik laat lyk. Eintlik is dit maar net protea ne?’ grap Jeanne. Die appels kan nie vir eetdoeleindes verkoop word nie en word dan slegs vir sap gebruik.
Toeriste het die buitelanders ingebring
Jeanne vertel die kodlingmotis ‘n eksotiese spesie in Suid-Afrika en moet dus uitgeroei word. ‘Die mot se ontstaan in Suid-Afrika het destyds by ‘n toeris se kodlingmot-besmetteappel begin. Gevalle soos hierdie verduidelik waarom daar sulke streng kwarantynregulasies vir internasionale vlugte is. Jy kan nie sommer jou vrugte met jou saamdra regoor die wêreld nie,’ sê Jeanne.’Een besmette vrug het amper gelei tot die einde van appelproduksie in Suid-Afrika.’
Die kodlingmot is in die verlede voldoende met chemiese middels beheer, maar het intussen baie meer weerstandbiedend daarteen geword. Chemiese plaagbeheer is ook skadelik vir die omgewing en die industrie is gedwing om na alternatiewe beheermaatreëls te kyk.
‘Daar is verskeie alternatiewe metodes wat ons vir die beheer van die kodlingmot gebruik,’ sê Jeanne. ‘Daar is byvoorbeeld die paringsontwrigting-tegniek. Ons versadig die boord met mot-ferromoon om die manlike motte te flous. Hulle ‘ruik’ dan oral wyfiemotte, maar kan nie hulle presiese ligging opspoor nie. Gevolglik gebruik hulle soveel energie dat hulle doodgaan voor hulle hul lewensmaat kon vind om te paar. Klink dit nie vir jou soos ‘n Romeo and Juliet-storie nie?’
Die oplossing lê in jelliewurmpies
Jeanne spesialiseer in die gebruik van klein mikroskopiese wurmpies (nematodes) vir die beheer van kodlingmot. Nematodes kom natuurlik in die grond voor regoor die wêreld en is omgewingsvriendelik, onskadelik vir mense en effektief vir die beheer van insekte. Hierdie wurmpies is entomopatogenies, wat beteken hulle is insekte (Grieks: entomon) wat siekte of skade (pathos) veroorsaak.
‘Hierdie jelliewurmpies het die vermoë om koolstofdioksiekafskeidings op te tel en die ligging daarvan te bepaal. Hulle word dus op bome gespuit en kan te danke aan die motte se CO2-afskeidings, hulle maklik betrap. Ons spuit hierdie nematodes gedurende die winter wanneer die bome nie vrugte dra nie, en die motlarwes oorwinter op die bome agter stukkies bas. Ons elimineer dus die probleem, voor dit ‘n probleem in die komende seisoen word,’ verduidelik Jeanne.
Die nematodes infekteer die insek deur natuurlike opening soos die anus of mond. ‘n Dodelike baktérie word dan deur die wurmpies binne-in die liggaam van die insek afgeskei, wat die insek binne 48 uur doodmaak.
‘As hierdie baktérie afgeskei word, verander die mot se ingewande in ‘n sopmengsel, waarop die nematodes dan voed. Hulle suig dit op met hulle klein bekkies,’ lag Jeanne. Die baktérie is baie spesifiek en het geen effek op mense nie.
Ster-isolaat word geken
Jeanne reken die gebruik van nematodes is ‘n goeie oplossing, omdat hulle iets wat reeds natuurlik voorkom, gebruik. Al die navorsing wat ons tans in Suid Afrika doen met hierdie nematodes, is met die gebruik van plaaslike spesies. Ons vermoed hierdie spesies is beter aangepas vir Suid-Afrika se warm klimaat, en boonop dra ons nie tot biologiese besoedeling by nie.’
Jeanne vertel dat hulle self as span grondmonsters regoor die land en in isolasie-areas gaan neem het.
‘Dit is baie belangrik dat elke nematode se DNS geïdentifiseer en benoem word. Dus dat elke nematode ‘n spesie-naam het. ‘n Mens moet tog weet waarmee jy werk, want elke spesie het unieke kenmerke. Dit is baie opwindend! Daar is nog min werk op die nematodes in Suid-Afrika gedoen, en die meeste spesies wat ons gevind het was nuut,’ sê sy trots.
Hulle navorsingspan het ‘n ‘ster-isolaat’ geïdentifiseer, die Heterorhabditis zealandica. Meeste navorsing word tans op hierdie nematode gedoen. ‘Ons ken hierdie nematode se voorkeure beter as wat meeste ma’s hulle eie kinders ken! Ons weet presies by watter temperature, humiditeit en ligintensiteit hulle die beste werk, spesifiek ten opsigte van die kodlingmot,’ voeg sy by.
In gumboots doen sy haar ding
‘Aan die begin het almal gesê dit kan nie gedoen word nie,’ sê Jeanne, ‘en kyk nou!’
Vir haar PhD fokus sy op die kommersialisering van nematodes.
‘Wat ek nou graag wil bereik, is om die nematodes as ‘n produk op die rak te kan sit. Dit is egter nogal ‘n storie om die rakleeftyd te verleng,’ sê sy.
‘Darem werk ek in ‘n span wat uit vyf lede bestaan. Ons elkeen kan op ‘n ander fasset van die ontwikkeling van die nematodes vir kommersiële gebruik fokus.’
Een van die redes waarom Jeanne geniet wat sy doen, is die balans wat sy kan kry.
‘Ek hou daarvan dat ek beide in die laboratorium en buite in die veld kan werk. My definisie van sukses is immers, jy moet in die oggend opstaan en nie loathe wat jy vandag gaan doen nie.’ Sy voeg by, ‘maar moenie ‘n fout maak nie, daar is dae wat ek graag my gumboots sou wou verruil vir ‘n paar Nine West boots. Landbou en trekkerry is maar ‘n aanpassing vir ‘n stadskind!’
Ek sal egter nooit spyt wees oor my besluit om my passie te volg nie. My persoonlike doel is om werk van die hoogste kwaliteit te kan lewer en excellence te gee in alles wat ek doen.
Op Vrydag 05 November, 2010, is Jeanne en nog ‘n jong Suid-Afrikaanse wetenskaplike, Paul Williamson, vanjaar se ‘Groen Talente’ ‘n internasionale toekenning in volhoubaarheid, vir hulle navorsing oorhandig. Hulle het pas teruggekeer van Duitsland na ‘n tien dae-lange wetenskaplike forum.
By Wilemien Calitz
Leave a Reply or Follow